Colibri-klein, maar ‘n enorme hart vir haar leerders – ontmoet vir Juf van der Merwe

Juffrou van der Merwe is die een nuwe gesig wat meeste leerders in die junior grade heel moontlik herken.  Haar eerste ontmoeting met die Rockies was gedurende haar proeftydperk as student-onderwyseres.  Dit is daarom ‘n groot voorreg om meer te leer oor Juf van der Merwe en om haar nou te verwelkom as ‘n opvoeder by HSS!

1. Wat is die taak waaraan juffrou vandag die meeste aandag moet gee?

Die taak waaraan ek die meeste aandag gegee het vandag was om my kosblik in te pak vir skool, want ek raak hangry.

2. Is dit toevallig dat juffrou is waar juffrou vandag is?

Ek glo nie in toeval nie, ek glo dat alles gebeur met ‘n rede en dat ek presies is waar ek moet wees.

3. Waarom neem dit soms langer vir sekere mense om hul drome te bereik, volgens juffrou?

Jy kan nie jou drome bereik deur om niks te doen nie – so party mense werk baie hard en bereik hul drome vinniger as die wat wag vir hulle drome om vanself waar te word.

4. Noem DRIE dinge wat juffrou weet werklik waar is.

1 – Malmesbury is na ‘n tamatie op ‘n braaibroodjie, die warmste ding op aarde.

2 – Die kleinste voël wat bestaan (colibri) is so groot soos die grootste voël wat bestaan (volstruis) se oog!

3 – McDonalds is plastiek en giftig vir ‘n mens se spysverteringstelsel.

5. Dink juffrou dit is moontlik om jou persoonlikheid te verander?

My persoonlikheid, nee. My opinie en my optrede, ja.

6. Waarom dink juffrou is die lewe soms onregverdig?

Almal word nie dieselfde pakkie kaarte gedeel nie, sukses hang dus nie af van die deler nie, maar van die hand wat die kaarte speel.

7. Watter karakter (storie, TV, film ens) verteenwoordig juffrou die beste?

Heidi. Heidi is ‘n karakter in ‘n Afrikaanse kinderstorie, wat my leer praat het. Sy is baie lief vir diere, stap graag in die berge saam met haar beste maatjie, en eet baie kaas.

8. Beskryf die mees onaangename persoon wie juffrou al ontmoet het.

Ek wil graag nie tronk toe gaan vir naamskending nie, so kom ons sê maar net mense wat gevaarlik bestuur.

9. Beskryf die mees interessante persoon wie juffrou al ontmoet het.

Dave – Dave is ‘n hawelose man wat in Stellenbosch geld bymekaar gemaak het om penne vir studente te koop en uit te deel. Sy redenasie was: “Students sometimes give me their leftover food, so I want to give them something they need as well, something to write their exams with to become successful.”

10 In ‘n neutedop, wie is Juf van der Merwe?

‘n Kort, diere-maar-hoofsaaklik-katte-liefhebber wat hou van sing, maar nie kan nie, semi-perfeksionistiese koffie drinker wat hokkie speel en atletiek doen en wat in haar vrye tyd of animasie stories kyk of wetenskaplike artikels lees. En iemand wat baie dreig dat sy jou met ‘n pen sal gooi, maar te lief vir jou is om dit te doen.

Ons is ongelooflik dankbaar om Juf van der Merwe as een van die Rockies te bestempel en ons hoop juffrou is gelukkig hier by ons!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar