SOMS IS NORMAAL OOK GOED GENOEG – deur Imke Erasmus

Die volgende is saamgestel met die hulp van werklike persone (soos aangedui in die verhaal), maar ook die fiktiewe vertelling van ‘n familie in die gryp van COVID-19.  Die werklike dagboekinskrywings kontrasteer die fiktiewe vertelling om die leser te herinner aan die universele krisis wat ons in die gesig staar.  Die skryfster deel dus geen persoonlike ervaring hier nie, maar ondersoek die ongelooflike uitdaging wat inperking en verlies op ‘n gesin kan uitoefen.   

Die laaste reën drip nog by my kamervenster af. My vinger gly saam met die druppel teen die glas af. Die lug is persblou gevlek, deurvleg met stukkies wynrooi en oranje. Die reuk van vars bougainvillea en nat grond hang om my. ‘n Regte wintersaand in die middel van herfs. My gedagtes draai weer terug na vroeër vandag. Hoe meer ek dit probeer onderdruk, hoe meer dring dit in my vlees in.

Vandag is Sondag, 29 Maart 2020, dag 3 van die nasionale inperking as my somme reg is. As mens nie geweet het wat die afgelope weke in die wêreld gebeur het nie, sou mens kon dink dit is ‘n doodnormale Sondag te Bergzichtstraat. My oudste het haar geliefde Samsung in die hand en kyk net so nou en dan benoud op as sy woorde ‘skottelgoed’ of ‘afstof’ hoor. My middelste kyk hoe lank sy ouers na sy walglike musiek kan luister voor hulle heeltemal kranksinnig raak en my jongste, dié sit op die vloer en bou Lego, diep ongelukkig omdat iemand kwansuis, volgens hom nou, een van sy 5457 blokkies verloor het en hy nou nie sy manjifieke huis kan klaar bou daarsonder nie. Neewat, hier in die Swartland verloop hierdie Sondag net soos alle ander voor die koms van die beroemde virus uit China. (Zirk Erasmus(49), Malmesbury)

Ek stap onrustig terug na my lessenaar toe. My Afrikaanse voorgeskrewe lê leweloos vir my en staar. Die woorde kon netsowel Grieks wees. Ek druk my duime teenaan my slape om my hoofpyn te verdoof. Asem in, asem uit.

Dinsdag 31 Maart 2020.

Dankie tog ek het ontsnap! Vandag is ek so dankbaar vir my pa se rypermit en die plaas se ooptes. Ek kan nie heeldag net so stilsit op een plek nie. Ek dink dit is hoe dit moet voel in ‘n tronk. Vyf dae van salige rondry saam met pappa, dan is dit weer terug na die ‘leeukuil’ – my ma en die skoolboeke… (Lali de Klerk(11), Somerset-Oos)

Ek skrik toe my broer my kamerdeur oopmaak. Sy gesig lyk onrustig, moeg. Die donker sirkels onder sy oë verklap sy tekort aan slaap. Hy tree tot langs my bed en gaan sit swaar op die punt. Ek hou hom stil dop. Hy sit gebukkend met sy gesig in sy hande. Ek voel-voel na die kettinkie om my nek. Ek sien hoe sy skouers stelselmatig begin ruk en dan onbeheersd, asof alles in hom wil vlug na buite. My hand bewe om die silwer kruisie tussen my vingers soos ek die blinknat teen sy wange waarneem. Al wat mens kan hoor is die sagte snikke vanaf die bed en my onreëlmatige asemhaling.

Donderdag 2 April 2020

My wekker se skril gepiep het my alweer van my bed afgepluk vanoggend. Dit sal gewoonlik fine wees, behalwe dat dit 06:30 was. My ma dring daarop aan dat ons vroeg moet opstaan om die dag te geniet. Na my kortgeknipte slapie gaan gee ek die hoenders kos en probeer ek die moegheid uit my oë vee. Ons het nou al vier hennetjies. Daarna… skoolwerk, die ‘beste’ manier om hierdie kwarantyn verby te kry. (Thomas Theron (16), Malmesbury )

Daar is ‘n sagte klop aan die deur. Ek kyk op in my pa se grysblou oë. Hy vryf met sy hand oor sy 2-dae oue baard. Die diep plooie om sy mond wat die afgelope weke verskyn het, duidelik sigbaar.

Haar donkerbruin oë kyk op na my. Ek gee vir haar die beker koffie aan. Die frons tussen haar wenkbroue ontspan. “Dankie,” prewel sy terwyl sy liggies die stomende koffie koel blaas. Met haar hare so los op haar skouers gedrapeer lyk sy so baie na haar ma.

Hy glimlag hartseer vir my. Die knop in my keel word al groter. Hy gaan sit langs Jahn op die bed. Sy maer hand huiwer ‘n oomblik voor hy dit op sy skouer sit. Ek draai my kop weg en gee oor, oor aan die oneindige huil wat binne my brand soos ‘n onblusbare vuur.

Tuesday 7 April 2020

When the simpler things in life don’t do it for you anymore, then you know the time has come to start getting creative. I’ve created a combined black ops force with my brother and little nephew and we take great pride in protecting our home from the invisible enemies that dare attack us. (Gladys Matewa(18), Darling)

Die waarheid is, haar siekte het nie net vir haar siek gemaak nie, dit het ons almal siek gemaak. Dit was dalk onsigbaar aan die begin, maar dit begin aan mens eet van die binnekant af, bietjie vir bietjie soos ‘n dodelike plaag tot net jou verstand oor is. En dan begin dit aan jou verstand ook knaag en dit wil nie ophou nie. Om eerlik te wees, dit hou nooit op nie, van die oomblik wat jy opstaan tot die oomblik wat jy gaan slaap. Jou liggaam behoort nie meer aan jou nie, die dag wat jy gehoor het jou ma het longkanker is die dag wat jy jouself ook aan die siekte oorgegee het.

Sy liggaam is warm onder my hand. Ek skrik toe ek haar snikke hoor. Ek sien hoe sy oorgee aan die hartseer, hoe haar maer liggaam ruk van die huil. Dis die eerste keer wat sy huil vandat ons uitgevind het hulle ma het kanker, drie jaar gelede. ‘n Week gelede het ons gehoor sy het ‘n Covid-19 kiem opgedoen en dat haar kans vir oorlewing minder as 3% was. Ek maak my oë toe en dank die Here vir Sy goedheid. My vrou is van vandag af verlig van haar pyn en veilig in Sy arms en my dogter het vir die eerste keer haar hart se mure afgebreek en haarself toegelaat om te voel.

2 thoughts on “SOMS IS NORMAAL OOK GOED GENOEG – deur Imke Erasmus

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar