SKRIKWEKKEND! – deur Jean-Mari Orchard

Twee soortgelyke pandemies `n eeu uitmekaar!

DIE GROOT GRIEP:

Amper `n honderd jaar gelede, 1918, tref `n pandemie die wereld.  Die Groot Griep, ook bekend as die Spaanse Griep, en word selfs deur sommiges Longpes genoem.
Dit was kort na die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902. Skepe het vanaf oorsee gereis na Durban en Kaapstad. Die pandemie word na Suid-Afrika versprei deur soldate aan boord hierdie skepe wat die griep dra. Die tydperk staan ook bekend as Swart Oktober in Suid-Afrika.


In Oktober 1918 ontvang die Burgermeester van Malmesbury, mnr. P G Nelson, berig dat sy moeder, wat in Kaapstad woon, ernstig siek is. Hy besoek haar en met sy terugkeer Malmesbury toe, sien hy genoeg om hom te laat besef dat die griep-epidemie baie, baie ernstig opgeneem moet word. By Woodstock sien hy `n skrikwekkende gesig. Honderde Maleiers was besig om hul dooies na begraafplase te dra. Berigte bevestig dat honderde mense daagliks in die Kaap gesterf het.

Dadelik na sy terugkeer na Malmesbury versoek hy die Stadsklerk om die volgende aand `n vergadering in die Stadsaal te belê. Die Raad besluit om ‘n Openbare Vergadering te hou met die inwoners van die dorp. Die inwoners besluit saam om alle nodige middele aan te wend om die siekte te bestry.


Die dorp word in 54 wyke, of areas, gedeel. Elke wyk kry `n persoon verantwoordelik vir daardie wyk. Onder toesig van die dokters en die wyksverteenwoordiger word sop, melk, medisyne en ander benodighede gratis onder armer en siek mense uitgedeel. Elke oggend moes die verteenwoordiger van elke wyk rapporteer aan die Burgermeester, mnr. J P Nelson en sy raad, hoe dit in sy wyk gaan, sodat hulle kan weet wat daar gedoen moet word. 
In `n skuur van die Westelike Graanboere Koöperasie, nou Agrimark, is die vloer bedek met strooi en dien dit as `n noodhospitaal.

Deur hierdie knap en vinnige optrede deur die Burgermeester en sy span, sowel as die inwoners van Malmesbury, is daar verhoed dat Malmesbury nie soveel sterftes soos ander dorpe gehad het nie.  Vandag is daar selfs `n straat vernoem na mnr. P G Nelson wat langs die hospitaal verby loop.

NOG `N PAAR FEITE WAT OOREENSTEM MET VANDAG SE COVID-19 PANDEMIE:

1. Die land het feitlik tot stilstand gekom a.g.v. siek werkers en baie dienste moes opgeskort word, sodat die griep nie kan versprei nie.
2. Winkels was leeg en apteke kon nie voorbly om medisyne en pille te voorsien nie.
3. Sopkombuise is ingerig.
4. Strate was verlate.
5. Huise en besighede is ontsmet.
6. Noodhospitale is ingerig in klaskamers en skure.
7. Die her-opening van die skole vir die vierde kwartaal is uitgestel.
8. Binne 7 weke tussen September en Oktober 1918 sterf 140,000 mense by beraming in Suid-Afrika.

Pas julle op gedurende hierdie tyd en so-ook jul geliefdes. Ontsmet en was julle hande gereeld, hou julle afstand tussen mense, en volg alle nodige maatreëls sodat ons almal veilig en gesond kan bly.


Baie dankie aan almal, die dokters en verpleegsters wat op die voorlyn staan om die pandemie te beveg, onderwysers en skole wat nuwe alternatiewe maniere gebruik om steeds leerders op te voed en selfs net die mense wat die maatreëls volg en by die huis bly deur ander en hulself in ag te neem.

2 thoughts on “SKRIKWEKKEND! – deur Jean-Mari Orchard

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar