VAKANSIEBESTEMMING: MOOIE MATZIKAMA – Renette Symington

Vakansiebestemming: Mooie Matzikama 

 

Die langverwagte en welverdiende Desembervakansie lê en koekeloer uiteindelik vir al  wat moeg en afgemat voel. Suid-Afrikaners van oraloor peil af op strande en al waarna  jý soek, is rus vir jou siel, vêr van die seegeskarrel en stadslawaai. So waarheen nou?  Pak jou koelsak, jou kroos en jou kar en vat die pad na die mooie Matzikama-distrik.  

Die Matzikama-omgewing sluit unieke, piepklein dorpies soos Trawal, Lutzville,  Doringbaai, Strandfontein en Vredendal in. Elkeen van hulle besaai met skatte om te  ontgin, maar vir nou verken ons eers vir Vanrhynsdorp.  

Jy kan jou vakansie afskop met ’n stewige ontbyt by Letsatsi Lodge net buite  Vanrhynsdorp, maar wees gewaarsku, jy mag dalk net só lekker daar kuier dat jy sommer  inboek vir ’n nag of drie. Terwyl jy daar is, kan jy van die geleentheid gebruik maak om na die wild op die perseel te gaan kyk, sowel as ’n duik in die swembad vat as lafenis  teen die geniepsige Matzikama-son.  

As die idee van ’n lodge nie jou tone laat krul nie, wees gerus: ZAR karavaanpark en  restaurant is net die regte oplossing vir jou probleem. Nie net word daar ’n groot  verskeidenheid disse voorgesit nie (van slak tot steak en alles tussenin), maar jy kan jou  ook verkyk aan die dekoratiewe items wat die restaurant verfraai.

Jy kan natuurlik nie in Vanrhynsdorp kuier en nie ’n besoek aan die Knechvlakte Kwekery  in die Ou Tronk aflê nie. Nie net is die vetplant-verskeidenheid ’n fees vir die oog nie,  maar jy kan jou ook vergaap aan al die oudhede wat jou definitief sal wegvoer na toeka  se tyd. As souvenir kan jy kies en keur uit die verskeie handgemaakte produkte wat te  koop aangebied word. 

As die dorp jou ’n bietjie begin vasdruk en jy na vars natuurlug smag, durf gerus die  Gifbergpas aan. Die pas is ’n uitdagende grondpad wat teen die Matzikama-berg  opkronkel en die plase teen die bergtop verbind met die Gifberg. Die pas bied  asemrowende uitsigte, staproetes, San-kuns, wilde blomme, waterpoele en watervalle,  daarom is dit ideaal vir piekniekliefhebbers.

As die see steeds jou naam fluister ten spyte van al die avontuur, pak jou kar, jou kroos,  jou pienkniekkombers en val in die pad na Doringbaai, ’n rustige strand net 80 kilometer  vanaf Vanrhynsdorp. Fryer’s Cove is een van die beste plekke om die skoonheid van die  Atlantiese Oseaan te bewonder met ’n vars porsie oesters en ’n glas Fryer’s Cove wyn in  die hand. Op windstil dae kan jy selfs vir jou ’n plek uitkies om vis te braai op die jetty! 

Op pad terug kan jy links inswenk en inloer in by die Strandfontein-kersmark. Vul jou  kersfeeskoekie-voorraad aan en kies en keur na smaak uit die verskeidenheid  handgemaakte items wat jou omring. 

Vanrhyndorp kan dalk met die eerste oogopslag piepklein en afgeleё voorkom, maar as  jy die moeite doen om dieper as die oppervlak te delf, mag jy dalk net aangenaam verras  word!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar