Verwelkom 2018 met ope arms! – deur Thea Nel

‘n Nuwejaar is soos ‘n boek wat aan elkeen van ons gegee word van Bo. ‘n Geskenk so wonderlik dat jy elke dag op ‘n skoon bladsy kan begin…

Die boek van die lewe.

Vergeet van die verlede. Fokus op die toekoms en hede. Wat gaan jy anders doen as vorige jare? Hoe gaan jy bydra tot ‘n beter wêreld?

Die lewe is te kort om te sit en wag vir beter dae. Gee nou jou bes, gryp nou aan en leef voluit! Maak elke hoofstuk in jou boek asemrowend!

Maak jou oë oop! Beleef die wonderlike skepping rondom ons. Gaan op avonture, lees interessante boeke en laat jou innerkind vry.

Ons word daagliks toegegooi onder werk, roetine, en sperdatums. Skep asem so af en toe. Luister na musiek, skryf, teken, speel met klei, beoefen ‘yoga’, dans, bou ‘n ‘pillow fort’ saam met ‘n geliefde, hou ‘n piekniek – wees vry! Doen wat jou gelukkig maak en vind geluk in die klein dingetjies wat ons gereeld afskeep.

Gebruik 2018 om uit jou gemaksone te klim. Neem deel en ontmoet nuwe mense. Dit is ongelooflik hoe nuwe menseverhoudings ‘n impak op jou lewe kan hê. Daag jouself uit en sien hoe dit bydra tot die groter prentjie.

Wees dankbaar en gee om vir ander. Sien die sieke en wees dankbaar jy is gesond. Sien die gestremde en wees dankbaar jy is normaal. Sien die graf en wees dankbaar jy leef.

Jy het die genade van 2018 ontvang – juig daaroor! Dit is tyd dat ons die waarde van die lewe besef. Hoekom moet ons altyd eers iets verloor voordat ons besef dat ons werklik geseënd is?

Moenie toelaat dat jou omstandighede jou potensiaal begrawe nie. Elke huis het sy kruis. Styg uit en word die persoon wie jy nog altyd wou wees en sorg dat daardie persoon meer as net ‘n verskil in die wêreld wil maak! Die geleentheid word aan jou gebied!

Dr. Susan Vosloo het eenkeer gesê: “Elkeen van ons ontvang ‘n skoon kaart. Vandag en selfs môre se bladsy is skoon. Wat ons kies om daarmee te doen is waaroor dit gaan.”

2018 is aan jou gegee vir ‘n rede! Verwelkom dit met ope arms!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar