Woorde Open Wêrelde – deur Thea Nel

Op 10 Maart 2018 het Swartland met ‘n junior en senior span aan die WOW (Woorde Open Wêrelde) debatkompetisie by Universiteit Stellenbosch gaan deelneem.

Die tema vir die kompetisie was 100%. Spanne het in die eerste rondte drie geleenthede gehad om teen mekaar te redeneer met die onderwerp wat in die lokaal getrek word. Die onderwerp sluit enige iets met die tema 100% in.

Die kompetisie bevat drie kategorieë: Nuwe Besems (vir beginners), Ou Hande ( spanne met meer ervaring) en Harde Koejawels (vir die gesoute sprekers). Ons junior span (Nina Janse van Rensburg, Theone Kruger en Kayla Le Grange) het as Ou Hande deelgeneem en deurgedring na die tweede rondte. Daar moes hulle as gr. 8’s teen Bloemhof se matrieks redeneer vir ‘n plek in die finaal. Ongelukkig het hulle nie deurgedring tot die finaal nie, maar hierdie drie dogters het beslis nie op hulle laat wag nie!

Ons senior span (Miencke Steyn, Joubert du Bois en Thea Nel) moes as Harde Koejawels teen Jan van Riebeeck, Stellenberg en Bloemhof in die eerste rondte redeneer. Hulle het vir Jan van Riebeeck in die onderwerp “ ‘n Party moet 100% stemme kry voordat hulle ‘n land kan regeer” goed laat les opsê, bietjie klei getrap teen Stellenberg, maar uitstekend geëindig teen Bloemhof wat volgens ‘n beoordelaar “die beste debat van die dag” was. Ongelukkig het ons seniors nie deurgedring na die semi-finaal nie.

Dit was ‘n opwindende dag waar ons sprekers vinnig op hulle voete moes dink en waar hulle hul verwysingsraamwerk kon vergroot.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar