WAARHEEN OM TE GAAN NA GRENDELTYD – Jean-Mari Orchard

Met die verslapping van Covid-19 maatreëls is ons Rockies besig om lands- en selfs wêreldwyd te toer na die beste vakansiebestemmings. As jy een van die vele Rockies is wat die vakansie by die huis deurbring, is dié artikel jou persoonlike gids om te verseker dat jy jou volgende vakansie op die beste manier kan geniet, sonder om ons landsgrense te verlaat.

  1. Langs die kus sal jy kan rus.

Die bekende gekruis van die seemeeue, die sand wat tussen jou tone kriewel, branders wat in die agtergrond breek en kinders wat uitbundig lag.. dit is ‘n bekende en nostalgiese herinnering vir ons almal.  ‘n Travelstart-artikel beveel die volgende strand-paradyse aan: Umhlanga, Hobie Beach, Bloubergstrand, Gonubie, Plettenbergbaai, Buffelsbaai, Durban, Ballito, Mosselbaai, Cape Vidal, Clifton en Kampsbaai. As die styging in die brandstofprys vir jou ‘n groot bekommernis is, kan jy nabygeleë kusdorpe soos Langebaan, Yzerfontein of Melkbosstrand oorweeg – as jy nie bang is vir koud kry nie!

  1. Besoek die bosveld

Een van Suid-Afrika se bekendste toeriste-trekpleisters is ongetwyfeld die Krugerwildtuin. Dit is die grootste wildreservaat in ons land en dek ongeveer 360 km Laeveld-grond waarin jy ‘n ryk verskeidenheid van ons land se fauna en flora sal opspoor. Die park is huis aan meer as 2 000 plant-, 507 voël-, 147 soogdier-, 114 reptiel- en 49 visspesies, asook die beroemde Groot Vyf wat uit die leeu, olifant, renoster, buffel en luiperd bestaan. Die kamp beskik oor ‘n aantal ruskampe soos Balule, die mees tradisionele Berg-en-Dal, die mees moderne Onder-Sabie, Krokodilbrug en Letaba wat langs twee van die vele riviere wat deur die park vloei, geleë is, Malelane, ‘n privaatkamp en Satara, as jy nie bang is dat ‘n leeu langs jou kom inkruip nie. Daar is ook “lodges” vir dié wat nie groot kampeerders is nie.

  1. Sun City Vakansie oord is waar jy hoort

Geleë in die Noordwes-Provinsie van Suid-Afrika, ongeveer twee ure se ry vanaf Johannesburg, bied Sun City verskeie maniere om jou vakansietyd op ‘n prettige manier deur te bring. Die nuutste aktiwiteit, ‘Breakout” sal vele genot verskaf aan mense wat hou van raaisels oplos. Daar is ook ‘n trampolienpark , vermaaklikheidsentrum met ten-pin bowling, ‘n rolprentteater, gholf, ’n vierwielmotorfiets rybaan, ‘n doolhof en die Vortex Virtual Lounge met 4D-speletjies. Daar is ook natuurlik die beroemde “Valley of Waves”, waar vakansiegangers kan swem of lê en bak in die son. Die waterpark langsaan sluit ‘n 70-meter amper vertikale waterglybaan genaamd “The Temple of Courage” vir die adrenalien joggies in. Daar is egter ook ander waterglybane wat nie soveel moed vereis nie.

  1. Die moederstad, Kaapstad.

 

Kaapstad bied iets vir almal, vanTafelberg of Leeukop besoek, of selfs uitklim, ‘n toer na Robbeneiland of deur die Kaapse Wynlande, pret hê op die Atlantis Sandduine, saam met haaie swem tot valskerm-sweef tot op die Kaapse promenade. Daar is ook talle restaurante met spyskaarte wat almal se voorkeure pas en luukse hotelle met asemrowende uitsigte oor die stad. Jy kan ook die Canal Walk-winkelsentrum of V&A Waterfront besoek vir ‘n bietjie “retail therapy”. By laasgenoemde is daar daaglikse opvoerings deur plaaslike musikante, sowel as ’n hawe waar jy op luukse bote kan reis.

Ek hoop hierdie artikel het jou oortuig om meer van Suid-Afrika se vele paradyse te besoek.

Geniet die res van die vakansie, Rockies!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar