HOE OM JOU TIENERJARE TEN VOLLE TE GENIET – Wilné Steyn

HOE OM JOU TIENERJARE TEN VOLLE TE GENIET

Jou hoërskooljare is die beste jare van jou lewe.”

As ek ʼn rand gekry het elke keer wat ek hiérdie holrug-geryde frase gehoor het, sou ek skatryk wees! Die prentjie wat ek van my tienerjare geskep het, was ‘n totaal valse beeld.

In die week is ʼn mens te besig om te sosialiseer en oor die naweek is ʼn mens bloot te moeg. Voor jy jou kan kry, is jy agttien en jou tienerjare is verby. Hier is ʼn paar wenke om te verhoed dat jou tienerjare voor jou oë verby vlieg.

1. Gaan uit saam met jou vriende

Gryp elke geleentheid aan om tyd saam met jou vriende deur te bring. Jy is dalk moeg of nie lus om te kuier nie, maar skuif dit opsy en gaan in elk geval! Jy weet nooit wat die dag mag inhou nie. Soms skep onbeplande kuiers die beste herinneringe. Jy hoef nie Kaap toe te gaan of vêr te ry om ʼn lekker uitstappie saam met jou vriende te hê nie. Daar is ʼn wye verskeidenheid dinge wat jy op die dorp kan doen. Gaan hou ʼn piekniek, kuier by iemand se huis of stap saam met jou vriende in die mooie Swartland (veral noudat die Canola in blom is).

2. Ontmoet nuwe mense

Dis altyd ʼn goeie ding om nuwe, uiteenlopende mense te leer ken en nuwe vriendskappe te bou. Daar is talle plekke waar jy nuwe mense kan ontmoet: ʼn konsert, kuiers, deur sport en nog vele meer! Om vriende te wees met ʼn wye verskeidenheid mense is goed, want daar is altyd iets nuut wat jy by elkeen kan leer. Nuwe mense daag jou ook uit om te groei en ontwikkel. Hoe meer nuwe mense jy ontmoet, hoe meer kontakte bou jy ook op vir die toekoms. Jy mag dalk net daardie persoon se hulp benodig eendag.

3. Leer jouself ken

Dit klink dalk voor die hand liggend of na ʼn simpel wenk, maar dit maak die wêreld se verskil in jou lewe. Tieners voel dikwels dat hulle nòg vis, nòg vlees is. As jy nie jouself ken nie, is dit moeilik om te weet waar jy inpas en met wie jy jou wil assosieer. Hoe beter jy jouself ken en hoe gemakliker jy met jouself is, hoe meer geniet jy die lewe en dit wat jy doen. Natuurlik is daar dae wat jy onseker oor jouself gaan voel, maar dit is doodnormaal.

Moenie jou tienerjare te ernstig opneem nie. As jy jou naam krater maak of iets simpel aanvang, lag eerder daaroor as om jouself konstant daaraan te herinner of te verwyt. Die lewe voel soms vreeslik ernstig, daarom moet ons net tyd maak om die rieme ‘n  bietjie skiet te gee en die lewe in ‘n ligter luim te omarm.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar