Wanneer kwarantyn net te lank raak – deur Jean-Mari Orchard

Is jy verveeld gedurende kwarantyn? Mis jy jou vriende? Begin jou sosiale lewe wegkwyn soos mis voor die son? Kyk jy gedurig na die horlosie om te kyk hoeveel tyd verloop het, vandat jy laas gekyk het?

Wel, hier is ‘n prettige oplossing om jou kwarantyntyd sommer baie korter te laat voel, sonder dat dit met jou hope huiswerk inmeng. Hiedie berig bevat voorstelle oor hoe om ‘n positiewe ondervinding te hê gedurende inperking.

Vir die meer kunssinnige lesers:  Maak ‘n skildery, met verskillende mediums, soos verf, tou, gedroogde blomme, lap of enige mooi voorwerp wat jy sien of aanraak. Vir ‘n tema gebruik idees soos herfs, die tuin, jou kamer of selfs een van jou familielede, maar daar is ‘n kinkel in die kabel, onthou om te eksperimenteer met ‘n medium wat jy nie gewoonlik gebruik nie. Gebruik voorwerpe soos blare of gedroogde blomme wat jy sommer in die mikrogolf kan droog.

Die waarheid is dat nie almal fanaties oor fiksheid is nie, daarom kan jy hierdie tydperk van kwarantyn gebruik om jou “moves” ‘n bietjie te oefen. Dit hoef nie veel te wees nie, ‘n kilometer draf om jou huis of yoga op jou grasperk. Daar is op Youtube baie video’s wat ‘n klas aanbied om te volg soos SarahBethYoga en vele ander wat gebruik kan word afhangende van jou ervaringsvlak. ‘n Vinnige sitkamer oefensessie met “squats, push-ups” en “planks” kan ook die ding doen. Hierdie bietjie oefening sal jou motiveer om meer produktief te wees en kan ‘n goeie manier wees om jou dag te begin.

Alhoewel jou sportgeleenthede mootlik afgestel gaan word moenie dat dit jou fiksheid en tegniek kortwiek nie . Vir die netbal-meisies, gooi die bal teen die muur om jou fokus te verbeter of oefen jou doele. Die hokkie-bokkies, gebruik ‘n ou mat om ‘n meer astro-tipe gevoel te gee wanneer jy die bal op die gras slaan of bou ‘n hindernisbaan in die gang van jou huis en oefen jou stokwerk.  Fiksheid is die kern tot enige sportster se oefenprogram, so maak nie saak watter sport jy beoefen nie, bly fiks!

Verandering is so goed soos ‘n vakansie, sê hulle mos. Wat beter om te doen as om jou kamer ‘n bietjie te verander? Verf jou mure, verander jou deur in ‘n swartbord om jou op datum te hou met take en huiswerk of skuif die meubels in jou kamer rond. Versier jou kamer met plantjies vir ‘n groener gevoel of maak ‘n fotomuur van goeie herinneringe saam met familie of maats. “Spring clean” jou kamer deur dit te organiseer en ordentlik skoon te maak van dak tot vloer.

Vir dié van julle wat eerder jul tyd in die kombuis wil spandeer, toets ‘n nuwe resep uit. Maak daai donker sjokoladekoek wat jy nog altyd wou gemaak het, maar nooit tyd voor gekry het nie, of maak selfs ‘n paar kolwyntjies of ‘n meer gesonde opsie soos veselryke muffins. Vir dié van ons wat al beter kan kook, probeer ‘n maaltyd vir die hele gesin. Eksperimenteer met ander kulture en lande se resepte en dek die tafel ook soos daardie land om aan te sluit by jou resepte.

Vir die toekomstige mode-ontwerpers onder ons, probeer ‘n nuwe aktiwiteit soos hekel of brei om jouself tydens hierdie koue winter, warm te hou. Die matriekmeisies van 2020 en 2021 kan selfs hul matriekafskeid rokke begin ontwerp!

Lê jou ondervinding van die pandemie met pen en papier neer, want wie weet?  Dit kan dalk eendag in geskiedenisboeke opgeneem word. Skryf dagboekstukkies of ‘n storie oor jou gedagtes en gevoelens oor jou dag neer. Begin ‘n nuwe boek lees vir tydens daardie laat aande, wanneer jy nie aan die slaap kan raak nie.

Maar mees belangrik, gebruik hierdie tyd om aan jouself op ‘n positiewe manier te werk en groei, meer van jouself te leer ken deur nuwe aktiwiteite uit te probeer. Na jy hierdie berig gelees het sal jy twee keer dink voor jy net voor die televisie gaan sit en niks doen.

Geniet die res van kwarantyn!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar