Semi-normaal is hopelik om die draai – deur Celesté Meintjies

Agt weke gelede was alles nog net ‘n nuwigheid.

Ons het daaroor gepraat tydens klas, dit is bespreek op elk wat ‘n Whatsapp Group is, en daar is talle grappe en memes daaroor gemaak wat ons almal lighartig versprei het.

Dit was ‘n grap, en in ‘n oogwink, was dit die nare realiteit.

Suid-Afrika is tans besig om die vyfde week van isolasie te betree. Op Sondag 17 Mei, staan Suid Afrika op 14 335 bevestigde gevalle, met ‘n sterftesyfer van 261, sover. Daar het sover 6478 pasiënte herstel van die virus, en wêreldwyd het sowat 1,71 miljoen pasiënte herstel.

Daar het wêreldwyd 312 000 aan die virus beswyk.

Daar is 4,66 miljoen bevestigde gevalle wêreldwyd.

Ongelukkig, is daar op die oomblik geen einde in sig nie. Nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die hele wêreld.

Covid-19 het skynbaar uit die bloute verskyn, asof ons een oggend die koerant gelees het, en dit net daar was. Daar was geen waarskuwing of teken van die ramp wat ons sou tref nie. Dit het begin met slegs ‘n paar steftes, een of twee wat as toeval afgemaak is, en ewe skielik het chaos losgebars in Wuhan, China. Skielik het dit van een of twee pasiënte na duisende toe gegaan, en die dodetal het net aanhou styg soos die kwik in ‘n termometer op ‘n baie warm dag.

Die res van die wêreld het gestaan en toekyk hoe die ramp afspeel, min wetend dat dit verskeie lande se lot sou wees. Toe ons ons oë uitvee, is die gevaar op ons eie voorstoep. In die weke wat aangeloop het tot die eerste bevestigde geval in Suid-Afrika, was verskeie Europese lande en die Verenigde State van Amerika reeds in gevaar. Die virus het klaar hul landsgrense binnegedring, en was besig om grootskaalse amok te saai onder hul burgers. Spanje en Italië was onder die lande wat die ergste getref is, wat grotendeels toegeskryf word aan hul onderskeidelike regerings se besluit om nie dadelik ‘n staat van inperking in werking te stel nie.

Die Covid-19 virus is deel van die Coronavirus familie, wat siektes veroorsaak by mense en diere. Covid-19 is een van drie “variasies” van hierdie virus. Covid-19 is ‘n akute respiratoriese infeksie wat veroorsaak word deur akute repiratoriese sindroom coronavirus 2, oftewel SARS-CoV-2, veroorsaak word. SARS-CoV-2 is ‘n afstameling van die eerste gekende “variasie” van die Coronavirus, bekend as SARS, oftewel Severe Acute Respitarory Syndrome, wat vir die eerste keer in 2002 kop uitgesteek het in die Guangdong provinsie in Suid-China. SARS-CoV was die eerste “variasie” van hierdie virus, en het net soos vandag, grootskaalse paniek gesaai toe die einste virus na sowat 26 lande versprei het en 774 sterftes veroorsaak het. Tussen 2002 en 2003 was daar meer as 8000 bevestigde gevalle regoor die wêreld, wat vandag as ‘n druppel in die emmer gesien kan word in vergelyking met ons huidige situasie.

Die tweede “variasie” van die virus was MERS, oftewel Middle Eastern Respiratory Syndrome, maar daar was slegs ‘n paar bevestigde gevalle wat beperk is tot die Arabiese Skiereiland in 2012, en geen sterftes nie.

Voor Covid-19 Suid-Afrika bereik het, is dit afgemaak as ‘n slegte griep,en niks anders nie. Hierdie houding het egter verander toe die bedreiging nader gekom het, en ewe skielik het almal die winkels ingevaar om handontsmettingsmiddels, gesigsmaskers, mediese handskoene en toiletpapier te koop. Dit het egter veroorsaak dat daar ‘n tekort aan toerusting soos maskers en handskoene was vir die mense wat dit eintlik nodig het: die mediese personeel wat elke dag in kontak met die pasiënte moet kom. Daar is nou ‘n wêreldwye tekort aan ventilators en beskermende drag vir mediese personeel.

Die simptome van Covid-19 sluit in:

Koors / n Droë hoes / Moeghei / Seer keel / Kortasem / Lyfseer

Verder word dit aangemoedig om sosiale distansieëring toe te pas en so ver as moontlik kontak met mense te vermy.

Die virus word hoofsaaklik versprei deur sputum van ‘n geïnfekteerde person, wat oorgedra word deur te hoes, nies of deur te praat sonder ‘n masker of enige vorm van bedekking van die gesig. Die virus het die vermoë om vir ‘n paar uur tot ‘n paar dae op oppervlaktes te oorleef, tensy die oppervlak gereeld ontsmet word.

Daar is huidiglik geen effektiewe of goedgekeurde behandeling vir die virus nie, en sekondêre infeksies word simptomaties behandel.

Tans word daar bespiegel dat die aantal geïnfekteerdes in Suid-Afrika eers in September sy maksimum getal sal bereik, waarna die virus hopelik sy pad sal uitwoed en tot stilstand sal kom.

Vir nou, klou ons aan die hoop van ‘n beter môre en die visie van ‘n wêreld waar ons weer kan terugkeer na ‘n semi-normale lewenstyl.

Al waarvoor ons huidiglik moet streef is die behoud van ‘n gesonde liggaam en ‘n gesonde geestestoestand in hierdie tye. Pas die reëls toe, en hou jou afstand. Maak ook gebruik van die geleenthied wat President Ramaphosa ons gebied het om soggens van 05:00 tot 09:00 binne ‘n vyf kilometer radius van jou huis te gaan oefen, want daar is absoluut niks beter as vars lug en die natuur (of selfs net die gesig van ander huise) nie.

Die belangrikste is: Bly gesond, vir jouself en vir jou gesin. Hierdie tydperk van droewigheid en onsekerheid sal eendag weer ‘n herinnering wees, wanneer ons mekaar weer in die oë kan kyk, hande kan skud en mekaar kan omhels, want dán sal ons besef hoe maklik ons alles as vanselfsprekend aanvaar.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar