DIE GRAS IS NIE ALTYD GROENER IN ‘N ANDER SKOOL NIE – Wilné Steyn

DIE GRAS IS NIE ALTYD GROENER IN ’N ANDER SKOOL NIE

 

Om ʼn Hoërskool te kies is glad nie ʼn besluit wat ligtelik geneem moet word nie. Daar is rofweg 6000 hoërskole landswyd om van te kies en te keur; dus is dit dikwels ʼn ingewikkelde besluit om die skool te vind wat jou die beste pas.

 

Ek het opgemerk dat baie leerders hulle besluit om in Hoërskool Swartland te wees, betwyfel. Hulle voel dat hulle beter sal aard in ʼn groter, sogenaamde invloedryker skool. Ek gaan jok as ek sê dat ek nog nie self so gevoel het nie, maar ek het tot die gevolgtrekking gekom dat, om uit jou ouerhuis skool te gaan, baie voordele inhou. Ek wil nie hierdie artikel ʼn preek maak oor hoekom Swartland strate beter is as ander skole nie (ek dink ons hoor genoeg sulke praatjies by die skool). Met dit uit die weg geruim, hier volg my persoonlike ervaring oor die voordele van uit jou ouerhuis skool gaan:

 

  1. TLC (“Tender Loving Care”)

Wat is slegter as om siek te wees en stoksielalleen in ʼn koshuiskamer te sit? Ek kan aan min dinge so erg dink soos om nie jou ma byderhand te hê as jy siek is om vir jou warm sjokolade te maak met eksta malvalekkers nie. Ek weet nie van jou nie, maar partykeer – as ek siek is of dit net nie my dag is nie – is al wat ek wil doen om in my eie bed te slaap, in my eie huis, in my eie dorp. Wanneer ek probleme ervaar en die lewe harde houe in my rigting slaan, is my huis die beste plek vir my om sin te maak van alles.

 

  1. My huis, my tyd

As iemand wat nie daarvan hou om “ge-rule en ge-regulate” te word nie, sou ek swaarkry met koshuisreëls wat jou hele roetine vir jou beplan. Die koshuis is vir ʼn sekere tipe persoon ontwerp en as jy nie in daardie boksie pas nie, kan dit baie frustrerend wees. Hier is ʼn voorbeeld: jy leer die beste en is meer produktief later in die aand, maar in die koshuis is ligte uit argumentsonthalwe tienuur. Baie mense redeneer dat jy meer vryheid het in die koshuis, omdat jy onder jou ma se neus weg is. Dít is dalk waar, maar jou vryheid word op verskeie ander maniere beperk in ʼn koshuis.

 

  1. ʼn Vals realiteit

Ons almal weet teen dié tyd dat sosiale media dikwels vir ʼn mens ʼn rat voor die oë draai en alles tien keer beter uitbeeld as wat dit werklik is. Groot skole is geen uitsondering nie. Ons glo dikwels dat kinders in daardie groot skole geen probleme het nie en dat hulle ʼn sprokieslewe lei. Eers toe ek kinders in hierdie groot skole leer ken het, het ek besef dat hulle ook probleme het en ook vêr van perfek is.

 

Ek probeer glad nie koshuise afskiet nie. Hierdie artikel gee jou eenvoudig iets om aan te dink volgende keer as jy wens dat jy in ʼn ander skool was. Onthou – die gras is nie noodwendig groener in ʼn ander skool nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar