Die matrikulante keer terug skool toe! – deur Jean-Mari Orchard

Die dag het uiteindelik aangebreek vir die matriekgroep van 2020 om terug te keer skool toe. Die vroeg opstaan, kospakkies pak en die afstof van daardie blou blazer van Hoërskool Swartland en om dit met trots te dra, het weer begin in ‘n tydperk van COVID-19.

Ek het met ‘n paar matrikulante opgevang oor hul ondervinding om terug te wees by die skool.  Na die gesprekke het ek besef dat elkeen ‘n unieke ervaring met my gedeel het, maar een ding wat almal in gemeen gehad het was die entoesiasme en opgewondenheid om terug by die skool te wees.

Na aanleiding van my eerste vraag (watter klas het jy die meeste gemis tydens kwarantyn?) was dit duidelik dat die Skeinatklas die meeste gemis was. Nie net omdat dit moeiliker was om dit aanlyn te doen nie, maar ook omdat die atmosfeer in die klas heeltemal anders is. Volgens hulle neem juf. Du Preez jou op ‘n avontuur van ongelooflike leersessies waartydens jy elke dag iets nuuts leer.

Om terug te keer na ‘n ietwat meer ernstige vraag (voel jy die veiligheidsmaatreëls, getref deur die skool, is voldoende?) was die antwoord ‘n oorweldigende JA!  Die matrieks voel dat die skool baie streng reageer om seker te maak dat al die korrekte voorsorgmaatreëls gevolg word en dat die personeel hulle uitstekend van hul taak kwyt om die gesondheid van die Rockies eerste te plaas. Mnr. Schoonraad en die personeel het regtig goed-deurdagtige planne gemaak om seker te maak dat elke leerder veilig kan wees en op hul studies kan konsentreer. Die protokol wat deur die Wes-Kaapse Onderwys Departement vereis word is baie noukeurig gevolg.

Daar was geen voorstelle deur enige van die matrikulante, met wie ek gesels het, oor wat die skool meer kan doen om die skool te beveilig nie.  Die personeel het uit hul pad gegaan om die protokol, neergelê deur die Departement van Onderwys, noukeurig te implementeer, om die leerders se veiligheid te verseker. Daar is handsaniteerder in die klasse en badkamers. Jou koors word geneem alvorens jy die skoolterrein binne-gaan en maskers word voorsien. Die matrieks is in twee groepe verdeel en hulle gaan op afwisselende dae skool. Almal sit 1,5m uitmekaar. Oral in die skool is indikators opgeplak, om jou in te lig hoe jy van klasse moet verwissel om te sorg dat alle moontlike klasruilings seepglad verloop en niemand word in gevaar gestel nie.

Die skool het ook vir die matrikulante die versekering gebied dat indien daar wel ‘n bevestigde COVID-19 geval is, die skool weer in-diepte skoonmaak prosedures sal volg, voor enige leerder weer toegelaat word na die bevestigde geval en skoonmaak-periode. Die matrieks vra slegs dat lesse voortgesit sal word indien daar ‘n tyd sou kom waar lesse onderbreek word.  Die verskillende platvorms soos MS Teams, Google Drive of Zoom en Whatsapp het wonderlik gewerk tydens fases 5 en 4 van inperking. Sommige van die matrikulante, met wie ek gesels het, is bekommerd oor die terugkeer van ander leerders en die handhawing van die huidige sisteem en spesifiek die veiligheid van onderwysers bo hulself.  Dit is ‘n reuse taak wat voorlê, maar almal het vertroue in die HSS-personeel.

En wat was die lekkerste deel van terugkeer na skool? Die mees algemene antwoord hier was, om hulle vriende weer te kan sien na hierdie lang tydperk van isolasie. Hulle sê hulle was gefrustreed oor hoe lank hulle by die huis moes bly en om net te kon opvang, gesels en saam lag was verskriklik lekker. Van die matrikulante het ook gesê dat hulle selfs die onderwysers gemis het en gemis het om weer in die klasse te wees en deel van die groep te kan wees en voel.  Maar nie net die leerders het verlang nie, die onderwysers was ook bly om al die kinders weer te kan sien en met hulle te praat.

Die eerste dag terug was vir die matrikulante ‘n ervaring soortgelyk aan dié een wat hulle aan die begin van hul laerskool loopbaan, in graad 1, gevoel het. ALLES WAS TOG TE VREEMD! Dit was ‘n aanpassing om by die skool se nuwe “normaal” in te pas. ‘n Paar onderwysers en leerders het selfs mekaar se name vergeet, maar miskien was dit omdat hulle mekaar nie herken het agter die maskers nie.  Die matrikulante het dit geniet om alleen by die skool te wees, hulle het weereens soos die leiers van die skool gevoel. Die verlengde tye en nuwe rustigheid wat oor die skool heers, maak dat ongelooflik baie werk gedoen word.  Daar was ook vrees betrokke op dag 1 en bekommernis oor die virus en of iemand dit gaan opdoen, maar na twee weke is almal baie meer gerus gestel en gewoond aan die proses om in-en uit die skool te beweeg op ‘n veilige en verantwoordelike manier.

‘n Baie moeilike vraag wat ek aan die matrikulante gestel het was hoe hulle voel oor die feit dat hulle dalk geen interskole of matriekafskeid sal beleef in 2020 nie? Alhoewel niemand daaroor gelukkig is nie, dit ‘n hartseer saak is en al die leerders al vanaf graad 8 af uitsien na ‘n matriekafskeid en laaste interskole, hoop hulle dat daar tog iets, eendag, gereël kan word al is dit klein, om finaal afskeid te neem van hul skool en vriende. Die matrieks glo sonder twyfel dat hul matriekjaar tog lekker sal wees, hetsy dit met of sonder die “normale gebeurtenisse” uitspeel. Die matrieks van 2020 gaan daarna streef, saam met die personeel en mede-Rockies om hul matriekjaar op ‘n hoë noot af te sluit.

Baie, dankie aan die matrikulante wat die tyd geneem het om hierdie vrae te beantwoord en hulle ervaring met ons te deel. Hulle is Danyn White, Louis de Jager en Marnic Ligthart.  Ons beste wense vergesel elke matrikulant wat hierdie jaar met durf en daad aanpak!

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar