KLOP – ‘N VERHAAL VAN MISHANDELING EN HOOP – Megan Lombaard

KLOP!

En dit is wat jy hoor- jou hart. Klop . Klop. Klop

Soos enige ander 22-jarige student, kuier ek een aand saam met my vriende by De Lapa. My vriendin wys my die aantreklike jongman wat vir my kyk. Ek kyk vir hom en hy vir my. Ek waai. Hy waai terug. Hy is op pad hierdie kant toe! Sy naam is Henrik, Hendrik Viljoen. Hy lyk heel aangenaam ek dink ons sal lekker kliek.

’n Maand later gaan ek en Hendrik is op ons tweede romantiese afspraak en hy vra my om sy meisie te wees. Natuurlik was my antwoord “ja”! Toe hy aan my hand raak, kry ek ’n kriewel in my maag, dalk skoenlappers? Ek is seker so rooi soos ’n tamatie!

Ses maande later trek Hendrik by my in. Dit gaan aanvanklik goed. Ons baklei nou en dan, maar watter hedendaagse paartjie baklei nie? Ag, dit is maar klein goedjies, soos wanneer ’n man my hulp in die publiek vra, raak hy jaloers. Ek dink hy wil my maar net beskerm teen die wrede wêreld.

Die bakleiery het meer gereeld en meer aggressief geraak. Hendrik sê hy beskerm my. Al gooi hy my met goed as ons baklei, weet ek hy’s lief vir my. Ek het geleer om maar stil te bly, want dan bly ek veilig. Hendrik het al ’n paar beskermingsbevele van my vriende af gekry. Hy het ook gesê ek mag nie alleen saam met hulle kuier nie, hy’s bang hulle maak my seer. Ek het hulle seker drie weke gelede in die hof laas gesien.

Een oggend het ek en Hendrik sommer vroegoggend al stry gekry. Hy’t op my geskree omdat ek vergeet het om melk te koop en toe kon hy nie sy koffie drink nie. Ek is in die maag geskop en het onmiddellik gevoel iets is verkeerd. Toe Hendrik ry om melk te gaan koop, het ek dadelik my broer, Adriaan, gebel.

 

Op pad dokter toe was die kar stil en ek kon hoor hoe my hart klop. Die dokter het ’n hele paar toetse gedoen. Sy’t uitgestap en na ’n tydjie terug gekom met ’n somber gesigsuitdrukking. Die tien sekondes tot by haar stoel, het soos ’n ewigheid gevoel en ek kon voel hoe my hart in my keel klop.

Vyf weke. Ek was vyf weke swanger, maar ek het die baba verloor. Adriaan se gesigsuitdrukking was die finale strooi. Dít is wat my finaal laat knak het. Ek kon nie meer stilbly nie. Die dokter het gesê sy sal my help om die regte stappe teen Hendrik te neem.

Later daardie dag het ek al my besittings uit ons woonstel verwyder. Gelukkig het Hendrik besluit om ietsie te gaan drink, so ons het tyd gehad. Soos ek in die kar sit en Adriaan die sleutel draai onthou ek dat my gunsteling boek nog in ons kamer is. Adriaan wou nie hê ek moes terug gaan nie, maar voor hy klaar kon praat, was ek weg. Blitsvinnig teen die trappe op. By die kamer in. Daar lê dit. Ek gryp dit. Ek’s uit by die deur. Ek hoor vir Hendrik mompel, maar hy is duidelik gekoring. Ek draai om en hardloop die woonstel in. Die voordeur swaai oop. Hy skree my naam. Harder en harder.

Dis hoe vrees voel: jou oë snel oop, jou asemhaling hou op en jou borsholte trek saam. En dit is wat jy hoor- jou hart. Klop. Klop. Klop. Ek sit binne die kas met my oë toe en my hande voor my mond. Ek hoor hoe hy in die woonstel rondloop. Skielik is dit stil. Onheilspellend stil.

Skielik swaai die kasdeur oop en twee hande pluk my uit. Trane van angs, spanning en verligting stroom onbedaarlik vanuit my ooglede. Dit is Adriaan. Hy het my gered. Dit was die laaste van bangheid, eensaamheid en stilte. Dit was die laaste van Hendrik Viljoen.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar